Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 21 Junie 2012

Hy in Jou....Waarheid uit jou Mond

Carina Francke

Teksvers: Sagaria 8:16, 19

Êrens langs die kus van Kalifornië groei seders van Libanon midde-in die rotse. Op een of ander manier het 'n saadjie sy pad tot in die rotsskeur gevind en die krag van groei het dit deur die skeur gestuur totdat dit die son en lig gevind het en boom geword het.  So is die krag van 'n enkele saadjie van goddelike waarheid.

Iemand wat bely hy is 'n Christengelowige moet verstaan dat die Gees van waarheid in hom woon en dat daar nie plek vir die leuen ook is nie. G'n wonder nie dat daar soveel vermanings in die Bybel opgeteken staan dat ons waarheid moet praat en leef: "Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en 'n regspraak van vrede in julle poorte. Julle moet die waarheid en die vrede liefhê." (Sag 8:16,19)

Die waarheid maak vir homself 'n pad - dit hoef nie verdedig te word nie.  Wanneer dit boonop waarheid is wat deur ons 24/7 Metgesel in ons lewens bewerkstellig en bevestig word, breek dit deur rots om by die son en lig uit te kom.

Die praat van waarheid word in so 'n ernstige lig beskou dat dit in die Bybel vir ons as waarskuwing aangeteken is. 'n  Egpaar het 'n blatante leuen aan die apostels vertel oor die bedrag geld wat hulle vir welsyn geskenk het en is as gevolg daarvan albei dood (Hand 5).  Petrus gee 'n uitspraak hieroor: "Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God."(v4)

Waarheid uit jou mond is wanneer egtheid aan die wortel lê van wat jy sê. Niemand hoef te wonder wat jy nou eintlik bedoel het nie; dit is om nie tegelyk ja en nee te bedoel nie en om nie die waarheid te verdraai nie.

As jy waarheid leef beteken dit jy is wat jy voorgee om te wees. Dis soos 'n anagram: lees dit van links na regs; van bo na onder en jy lees dieselfde ding. Of jy nou uit watter hoek, lig of rigting as gelowige bekyk word, jou lewe behoort bo verdenking te wees. En dit kry ons net reg as ons groei vanuit die Waarheid en Lig sodat die pad wat ons loop vir ander die Weg van waarheid kan aanwys.

Gebed: Here, U is  my Waarheid. Mag die waarheid van my woorde en lewe groei soos 'n inheemse boom, ongeag die grond waarin ek geplant staan. Amen.

Previous article: Vers n dag - 22 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 20 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.