God by my 18 Junie 2026
Ben Fourie
Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. Romeine 8:9a, 1983-vertaling
Ek kan nie vir die waarheid daarvan instaan nie, maar daar het in my studentedae 'n storie rondgegaan van 'n professor by die teologiese skool wat nie vir die studente wou sê hoe hy sy stiltetyd hou nie. Vir hom was dit ‘n persoonlike saak. Een aand het hulle stilletjies by sy slaapkamervenster gaan afluister. Toe hy in die bed klim het hulle net gehoor hy sê: “Nag Jesus” en toe het hy die lig afgesit en geslaap.
Die volgende dag het hulle maar gebieg en gevra hy moet tog vir hulle verduidelik. Sy verduideliking was dat hy elke oggend as hy opstaan vir die Here goeiemôre sê en saans wanneer hy gaan slaap vir Hom nag sê. Die Here was elke oomblik van die dag vir hom so 'n werklikheid dat hy dit nie nodig gevind het om spesiale stiltetyd te hou nie.
Wanneer Paulus in hoofstuk agt aan die Romeine skryf oor 'n lewe deur die Gees is dit ook sy uitgangspunt. God is elke dag en nag deur sy Gees by ons. Daar is geen oomblik wat Hy nie by ons is nie, inteendeel Hy woon letterlik in ons.
Wanneer die Heilige Gees so in ons woon, word ons nie meer deur ons sondige natuur beheers nie. Kyk mooi wat hier staan. Dit beteken nie ons doen nooit meer sonde nie. Hier staan die sonde beheer en bestuur nie meer ons lewens nie.
Die meeste van ons sal seker maar moet erken dat ons nog ver is van hoe die professor dit beleef het, maar ons kan vir seker weet dat die Gees van God ook in ons woon en ons sondige natuur nie meer die oorhand in ons lewens het nie. Jesus sal dit geniet as ons Hom ook elke môre en elke aand groet.
Gebed: Liewe Here, ek begeer ook om u teenwoordigheid elke oomblik van die dag te ervaar. Help my asseblief om werklik te verstaan wat dit beteken dat u Gees in my woon. Amen