God en wetenskap - 19 Junie 2026
Ben Fourie
Waar was jy toe ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. Job 38:4, 1983-vertaling
Onlangs sit ek en my vrou en luister na Randall Wicomb se lied "Wie het die dinge gedoen". Alhoewel die lied blykbaar op Job 12 gebaseer is, het dit my laat dink aan God se gesprek met Job in hoofstuk 38. Hier gebruik God die voorbeeld van al die dinge wat Hy gedoen het, veral soos wat dit sigbaar raak in die skepping. Die hele hoofstuk is absoluut die moeite werd om te lees veral omdat dit in pragtige digterlike taal geskryf is
.
Die debat oor God en die wetenskap kom al eeue lank aan en is nie net 'n debat oor skepping nie, maar 'n debat oor die vraag of God werklik bestaan. Op my boekrak staan die volgende boeke en ek het elkeen van hulle gelees en die meeste van hulle herlees: "The Origin of Species" van Charles Darwin; "A Brief History of Time" van Stephen Hawking; "The Earth, An Intimate History" van Richard Fortey; "Sapiens, A Brief History of Humankind" van Yuval Noah Harari en David Bodanis se "A Biography of the World’s Most Famous Equation" wat handel oor Albert Einstein en ander wetenskaplikes.
Ek het die boeke uiters interessant gevind en baie dinge oor die natuur, ontwikkeling van die mens, sterrekunde en ander dinge het vir my duidelik geword.
Ten spyte van al die boeke en die insigte wat hulle my oor 'n groot verskeidenheid onderwerpe gegee het, kon ek niks vind wat my geloof in die God van die Bybel aangetas het nie.
God se vraag aan Job: “Waar was jy toe ek die aarde se fondamente gelê het”, laat my net weer besef, al kan ons deur die wetenskap tot by die kleinste deeltjie van die atoom sien, was ek nie daar toe alles tot stand gekom het nie. Die antwoord op die vraag: Wie het die dinge gedoen?, het inderdaad net een antwoord – God.
Gebed: Saam met die digter van Psalm 19 kan ek ook maar net sê; die heelal getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Amen