God se Woord is baie mooi - 22 Junie 2025
Ben Fourie
U woord is baie suiwer, ek het dit lief. Psalm 119:140, 1983-vertaling
Ek is geen kunskenner nie, net maar 'n liefhebber van skilderye. By 'n prokureursfirma se kantoor sien ek op 'n dag 'n pragtige skildery van Cornelius Bosch. Ek het al weer twee keer daarna gaan kyk. Hoekom is dit vir my mooi? Ek weet nie, elke skildery praat met my op 'n ander manier. So ook die Woord. Sy Woord is soos 'n skildery met verskillende kleure en vlakke. Elke boek bring iets van God te voorskyn totdat die prent wat ons van Hom het voltooi is.
Ons kyk elkeen op ons eie manier na 'n skildery en ook na die Woord van God. Self verkies ek om 'n hele hoofstuk of selfs meer op 'n slag te lees, maar nie noodwendig elke dag nie. Iemand anders wil weer elke dag 'n stukkie lees. Die belangrike is nie hoe 'n mens lees nie, maar dát jy lees en nadink en toepas dit wat jy gelees het.
Die digter van Psalm 119 het die wonder van God se skildery in talle verse vasgevat. Woord en wet beteken in die psalm basies dieselfde. Luister byvoorbeeld na vers 130 “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is” en vandag se vers “U woord is baie suiwer”. Vers 160 sê “Op u woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat” en die wonderlike versekering in die heel eerste vers “Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here.”
Die skildery word deur God self onderteken in Johannes 1:1 “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” Nou is dit veel meer as geskrewe woorde, God is nou self die Woord.
Gebed: Baie dankie dat u Woord in hierdie donker wêreld 'n lig is wat helder skyn sodat ek nie die pad sal byster raak nie. Amen