Herken ons Jesus elke dag? - 23 Junie 2026
Ben Fourie
Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. Johannes 20:14, 1983-vertaling
So 'n maand of wat gelede preek Stefan Joubert in ons gemeente. 'n Staaltjie wat hy as toeligting by die preek vertel het, het lank daarna nog in my kop bly vassteek. Koningin Elizabeth II het blykbaar op 'n dag saam met haar lyfwag op Buckinghampaleis se terrein rondgeloop met haar kenmerkende kopdoekie om die kop.
Een van die toeriste wat elke dag buite die heining rondstaan en kyk of hulle een van die koninklike gesin kan gewaar, het haar nie herken nie en gevra of sy al die koningin daar binne gesien het. “Nee” sê sy “nog nooit nie, maar die man wat hier saam met my stap, het haar al baie maal gesien.”
Kyk ons nie ook dikwels vir Jesus mis of sien wonderlike dinge in ons lewens gebeur sonder om sy hand daarin te herken nie? Maria Magdalena het daardie Sondagoggend buite die graf gestaan toe Jesus by haar kom staan. So deur haar trane heen het sy Hom ook nie herken nie. 'n Mens voel dit is amper heeltemal onverstaanbaar dat sy Hom nie herken het nie. Na soveel dae en ure in sy geselskap moes sy Hom tog herken het.
As ons bietjie verder dink verstaan 'n mens haar dilemma. Die laaste wat sy vir Jesus gesien het, was toe hy met 'n gebroke liggaam in die graf weggelê is en hier staan Hy fris en gesond voor haar. Sy opstanding uit die dood is so 'n ongelooflike gebeurtenis, dat sy ook nie haar oë kon glo nie.
Die opstanding bly steeds 'n gebeurtenis wat ons verstand nie kan verwerk nie. Dit is iets wat ons net in die geloof kan aanvaar, maar as ons hom nie buite die graf raaksien en herken nie, sê Paulus “is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”. (1 Korintiërs 15:19)
Gebed: Laat ek U tog in alles wat elke dag gebeur herken, maar help my asseblief veral om U elke dag as die opgestane Jesus te herken. Amen