Wie my die nodigste het - 24 Junie 2026
Ben Fourie
Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na hom roep. Psalm 4:4, 1983-vertaling
Oom Hennie het in Namibië se Swartrant geboer. Soos dit maar met 'n boer gaan wou hy en sy vrou baie graag 'n seun hê wat die plaas en die boerdery kon oorneem wanneer dit vir hulle aftreetyd word. Toe word 'n dogter gebore. Toe nog 'n dogter en so aan tot daar later ses dogters was.
Op 'n dag vra iemand vir hom vir wie van die ses dogters hy die liefste is. Ek het oom Hennie as 'n baie diep gelowige mens geken en sy antwoord het gepas by wie hy is. “Man” sê hy vir die persoon: “ek is die liefste vir die een van hulle wat my op daardie oomblik die nodigste het.”
Wat 'n wonderlike antwoord en wat 'n wonderlike wete, veral ook vir ons op geestelike terrein. God het ons altyd lief, maar ek wil glo dat wanneer ek in die nood is, Hy my op 'n baie spesiale manier liefhet. Lees 'n mens die Psalms, kom die gedagte baie dikwels voor, veral ook by Dawid.
Psalm 4 is waarskynlik geskryf as 'n aandgesang. Dawid kyk terug na ander tye toe hy in die nood was en God hom bevry het. Dink maar aan die keer toe hy deur koning Saul in die grot vasgekeer is, of in die paleis toe Saul hom met 'n spies wou deurboor. Daar is talle ander gevalle wat ons kan noem.
Dawid se ervaring van God is dat Hy hom altyd uit noodsituasies gered het. Daarom kan hy in hierdie psalm met absolute sekerheid sê: “Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na hom roep.” Soms voel dit nie vir ons so as ons na God roep nie, maar dit is absoluut waar en dit verander nooit.
Gebed: Baie dankie ons Vader dat U altyd daar is wanneer ons U die nodigste het. Amen