Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 22 Junie 2012

Jou geskenk: Sy lig in Jou

Carina Francke

1 Konings 8:12; Psalm 18:12

" Toe het Salomo gesê: Die Here het gesê dat Hy in donkerheid wil woon." 1Kon 8:12

"Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolkeduisternis rondom Hom." Ps18:12

Hoe dan nou? Het apostel Johannes nie verklaar dat Hy lig is en dat daar geen duisternis in Hom is nie? (1Joh 1:5). Natuurlik het Hy! Maar die duisternis waarin Hy woon is lankal nie meer donkerte nie, want waar Hy teenwoordig is, skyn die lig verblindend helder. Dit verdryf die duisternis en skyn déúr die diktes van die donkerste wolke en water. Waar Hy hom ookal bevind, daar word die nagdonkerte helder lig!

Kan jy verstaan waarom jy lig word wat in die wêreld skyn as Hy in jou kom woon? Jy onthou tog mos wat ons gesê het oor ons 24/7 inwonende Metgesel? Jesus sê:"As iemand My liefhet sal  hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom woning maak." (Joh 14:23) Die ware Lig Self het huis by jou kom maak! Hy het Self vir Hom 'n vaste woonplek gebou.....JY!

En tog waarsku Jesus baie ernstig in Luk 11:33-36 dat ons moet sorg dat "die lamp van ons liggaam, die oog," nie sleg word nie, want dan gaan ons hele liggaam donker wees.  Die verantwoordelikheid om te sorg dat ons oog nie donker word nie, rus vierkantig op ons skouers. Hierdie 'oog' verwys na ons geestelike morele oog waarmee ons na dinge in en om ons kyk en wat bepaal in hoe 'n mate ons  lewens verlig is. As ons geestelike oog blind begin raak vir die (verkeerde) dinge wat die Woord en Heilige Gees in ons lewe, besluite of lewenspad  wil uitwys, is ons mense wat die skynende lig in 'n kelder of onder 'n emmer bêre. 

Die hartseer gevolg? Behalwe dat ons self (ons hele liggaam ) in donkerte gehul is, kan mense ook nie meer die lig sien nie.....en ook nie die Lig wat deur ons wil skyn nie.

Wat het dan geword van God wat in duisternis wil woon? Kan Hy nie maar deur daardie donkerte van my oog skyn nie en dit lig maak nie? Nee! Jou wil en eiesinnigheid verhoed dit en God respekteer daardie kwaliteit wat Hy deel van jou menswees gemaak het. Dis jóú keuse om die lig voortdurend deur jou te laat skyn.

Gebed: Vader, dankie dat U my lewe kom verlig het.  Help my om nooit my geestelike oog blind te laat word nie.  Amen.

Previous article: Vers n dag - 25 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 21 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.