Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 25 Junie 2012

Sy geskenk aan Jou: Rustige slaap.

Carina Francke

Teksvers Psalm 3:6; Psalm 4:9

Slaaploosheid is die probleem van ons tyd.  Die oorsake daarvan wissel van spanning, vrees,bekommernis tot oormoegheid, 'n besige program en...en...

In Psalm 3 ervaar die skrywer aan die een kant vrees en spanning omdat sy lewe bedreig word deur sy seun Absalom, daarom bekla hy sy nood by God, maar aan die ander kant verklaar hy ook sy onwrikbare vertroue in Hom: God is die Een wat hom beskerm, hom eer, verhoor en sy kop oplig.(v4). Met hierdie verklaring aan God (en homself) besef hy die krag daarvan: God weet van hom en hy mag maar hardop tot Hom roep vir hulp (v5). Iets dring tot hom deur - God is ook  "my God" (v8). Geen wonder dan dat hy 'n verklaring kan maak wat al sy  vrees 'n nekslag toedien: "Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die Here ondersteun (sorg vir )my." (Ps 3:6)

In Christus mag jy ook vir God my God sê. Omdat Hy vir jou sorg, is Hy al een wat jou kan red en uitkoms gee sodat jy die volgende dag met hoop kan opstaan. Die Psalmis se situasie het nie noodwendig onmiddellik verander na die gebed nie,  maar hy het 'n goddelike perspektief daarop gekry - 'n geloofsperspektief dat God hom beskerm en dat Hy sy God is.

In Psalm 4 is die bron van sy bekommernis sy medemens se beskuldigings. Hy wonder hoe lank hulle nog sal aanhou daarmee, maar verklaar in dieselfde asem dat hulle aanklagte verdwerg word deur God se vermoë om hulp te verleen, om te antwoord as hy om hulp roep en dat die vreugde wat Hy gee, baie groter is as materiële voorspoed. Oorwinnend roep hy ten slotte uit: "Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o Here,  alleen laat  my in veiligheid woon." (Psalm 4:9)

Die emosies wat ons beleef in moeilike omstandighede is normaal, maar wanneer dit die gelowige se slaap steel en hom van God se  vreugde ontneem, moet 'n rooi lig opgaan. Dan het dit tyd geword om te doen wat die Psalmis gedoen het: bely God se almag en vermoë en roep jouself so in Hoop in.

Gebed: Here, wanneer die slaap in die nag wegkruipertjie met my speel, help my om te onthou dat  U my God is en my aan die slaap sal laat raak. 

Previous article: Vers n dag - 26 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 22 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.