Vers n dag - 27 Junie 2012
Jou geskenk: Sy Bloed
Carina Francke
Teksvers: 1Petr1:18,19
Onder die Ou Verbond was die bloed van diere nodig om die volk Israel se sondes te vergewe. Onder die Nuwe Verbond het Jesus die Self die eenmalige offer geword offer wat ons sonde vir altyd sou wegneem en ons so met Hom versoen (ons verhouding met God herstel). (Hebr 9:26) Jesus se bloed word dus die mens se geskenk om vergifnis te ontvang en van die juk van sonde los te kom. "...julle weet dat julle nie deur verganklike dinge...losgekoop is uit julle ydele lewenswandel...nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos." (1Petr 1:18,19).
Sy bloed beteken egter ook genesing vir ons totale mens: "deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom." (Jes 53:5;1Petr 2:24) Jesus se bediening op aarde bewys die waarheid van hierdie woorde: Hy het mense met liggaamlike afwykings gesond gemaak, emosioneel en geestelik versteurdes tot normaliteit herstel, verstotenes deel gemaak van 'n familie en selfs fisies dooie mense opgewek.
Dieselfde gesag het Hy aan sy dissipels (wat jou en my insluit) gegee: "Wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal Hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit omdat Ek na my Vader gaan." (Joh 14:12)
In Openbaring 12:11 lees ons dat die gelowige se finale oorwinning oor die duiwel ook lê in die bloed van die Lam:"En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis..." In ons eie krag en vanuit ons eie 'stabiele' karakters en sterk persoonlikhede kan ons eenvoudig nie daarin slaag om al die aanslae van die duiwel die hoof te bied nie. Omdat Sy bloed egter ons erfporsie geword het by sondevergifnis, gee dit ons gesag om oor elke aanval van die duiwel oorwinning te behaal. Om hierdie oorwinning te bevestig, word ons getuienis oor die Here se werk in ons lewe, 'n laaste spyker in die doodskis van die duiwel se aanslae op ons.
Dalk moet ons meer erns meen met die krag wat in die bloed opgesluit is en begin leef vanuit die feit dat ons sondes daardeur vergewe is, dat ons met God versoen is, dat ons gesond en in oorwinning kan leef daardeur!
Gebed: Dankie vir die bloedoffer van Christus en die standhoudende krag daarvan in my lewe. Amen.