Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 28 Junie 2012

Jou woonplek is tydelik

Carina Francke

Teksvers: 2 Kor 4:16; 5:1

Tentbly is lekker, maar permanent?! Sekerlik nie die ideaal nie, want die elemente speel nie altyd saam om dit 'n aangename verblyf te maak nie.

Paulus gebruik hierdie beeld om ons verblyf in 'n deurmekaar en stukkende lewe  wat aan elemente soos siekte, hartseer, honger, teleurstellings, ouderdom en dood blootgestel is, te beskryf, maar ook om 'n hoopvolle verwagting by ons op te wek: "daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike  mens dag na dag vernuwe. (4:16). Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele."(5:1)

Ons is daagliks pynlik daarvan bewus hoedat ons tentwoning aan't verweer is, maar dit moet juis die verwagting van 'n ewige huis in ons wakker maak. En daardie huis is een wat nooit kan verweer nie, omdat dit 'n geestelike huis, ewig, in die hemele is. Die daaglikse swaarkry en die aftakeling van ons liggaam moet ons nooit moedeloos maak nie, want ons het die belofte dat "Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek..." (2Kor4:14) Begin liewer jou lewe voluit leef en fokus op die eindstreep wat in sig is en op die prys van 'n nuwe (heel en gesonde) huis.  Dit ís moontlik want jou 24/7 Metgesel loop elke tree saam met jou.

In teenstelling met die uiterlike,  word ons innerlike daagliks vernuwe.  Jy sien,  ons hart, ons gees, ons 'binne-menswees' het lewend geword toe ons 24/7 Metgesel - die Drie-eenheid woning by ons kom maak het. Deur ons verhouding met Hom en Sy inspraak in ons lewens wanneer ons die Woord lees,  bepeins en doen wat daarin staan, word ons innerlike mens op wonderbare en misterieuse wyse verander om nooit te verouder nie. G'n wonder nie dat Paulus hoopvol aanbeveel: Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe.... om Hom welbehaaglik te wees." (2Kor5:9).

Gebed: Vader, dankie vir die wete dat ek in my binne- mens nooit sal oud word nie en dat my  sterwende liggaam opgewek gaan word deur U krag.  Amen

Previous article: Vers n dag - 29 Junie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 27 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.