Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 29 Junie 2012

Verwagting van sy wederkoms

Carina Francke

Teksvers: Joh 14:2,3

Byna elke oomblik van ons dag draai om beplanning, voorsiening en oorlewing vir die hier en nou. En dit hou vir die duur van ons lewe op aarde ook nie op nie.  Maar dis tydelik.

Daar is  egter ook 'n ander lewe, parallel aan dié een wat ons fisies op aarde leef, naamlik die lewe in die geestesdimensie. En tog is dit die lewe waaraan ons afskeeptye spandeer (of niks).  En dit is die lewe wat ewig duur. Dit is ook die lewe wat ons verblyf op aarde draaglik kan maak, nee, vreugdevol kan maak! Waarom? Omdat Hy belowe het dat ons in Hom meer as oorwinnaars is, dat ons tot alles in staat is omdat Hy vir ons die krag gee en dat alles ten goede meewerk vir diegene wat Hom liefhet. Ons trek as't ware die hemelse in ons aardse bestaan in!

Hierdie ewige is die lewe waarvan Jesus praat as Hy vir sy dissipels sê: "Ek gaan om vir julle plek te berei, en as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle  ook kan wees waar Ek is." (Joh 14:2,3)

Ons verblyfbestaan op aarde is dus dié van vreemdelinge en bywoners en nie van medeburgers en permanente inwoners nie. Dit is bewerkstellig deur Christus wat aan ons deur die Gees toegang verleen tot die Vader en dit gee ons die reg tot burgerskap in die hemel:" So is julle nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God.." (Ef 2:18,19)

Nou wanneer betree ons dan hierdie land waarvan ons burgers geword het? Die dag wanneer Jesus terugkeer aarde toe om ons saam met Hom te neem. Ja, ons wens die tyd om, maar word ook aangemoedig om geduldig te wag en ons harte te versterk, want die wederkoms ís naby (Jak 5:8).

Hy vertraag nie die belofte van sy wederkoms soos ons soms dink nie, maar Hy is geduldig en wil nie hê sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. (2Petr 3:9).  Intussen kan ek en jy met 'n opgewonde afwagting dat Hy ons binnekort kom haal, ons lewe leef en die werk waarvoor Hy ons op aarde geplaas het, met entoesiasme  doen.

Maak net seker jy is gereed.

Gebed: Vader, dankie vir die belofte dat U gaan terukeer aarde toe om my te kom haal. Help my om getrou te bly.  Amen.

Previous article: Vers n dag - 2 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 28 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.