Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 2 Julie 2012

Tema vir die maand: LEEF GELUKKIG VANDAG

DAG 1: LEEF GELUKKIG VANDAG...

Deur Benescke Janse van Rensburg

Daar bestaan drie tipes mense: ’n “gister-mens”, ’n “môre-mens” en ’n “vandag-mens”.

’n Gister-mens is iemand wat in die verlede vasgesluit sit. Só ’n persoon sal gereeld verwys na hoeveel beter dinge in die verlede was (al is dit ook ’n illusie). Ook sukkel gister-mense om te vergewe omdat hulle nie slegte dinge wat in die verlede aan hulle gedoen is, kan óf wil opsy skuif, vergewe en aanbeweeg nie. Die gevaar vir verlede-mense is dat hulle een oggend kan wakker skrik en besef dat hulle hulself van kosbare tyd met geliefdes beroof het omdat hulle toegelaat het dat verwyte en bitterheid hulle lewens versuur.

’n Môre-mens is iemand wat primêr op die toekoms gefokus is. Só mens sukkel om tevrede te wees met wie hy of sy is en wat hulle het. Dít veroorsaak ’n konstante gejaag na meer en beter omdat ’n môre-mens glo dat meer sukses aan hulle geluk sal verskaf. Hoewel dit goed is doelwitte te stel en drome na te volg, is jy op die verkeerde pad as dit jou verhoudings met jou geliefdes negatief begin beïnvloed. Die gevaar vir toekoms-mense is dat hulle een oggend kan wakker skrik met ’n studeerkamer vol bekers en toekenningsertifikate, maar niemand om dit mee te deel nie. Hulle lewens het by hulle verbygejaag sonder dat hulle die spesiale oomblikke in die hede raakgesien of benut het.

Dit bring my by vandag-mense. Dié groep mense is bewus van hulle teleurstellings en foute uit die verlede, maar hulle laat nie toe dat dit hulle gevange hou nie. Ook stel vandag-mense duidelike doelwitte vir die toekoms, maar hulle laat nie toe dat dit hulle insuig om die geleenthede om vandag ’n verskil te maak, mis te kyk nie. Vandag-mense is bewus van die hartseer kollega in jou kantoor, die bedelaar op die straathoek, die polisieman wat goeie diens lewer, die bejaarde wat hulp benodig om oor die besige straat te stap of die kind wat ’n drukkie nodig het – en hulle kies om die persoon te wees wat die kompliment gee of die behoefte vervul. Vandag-mense leef elke dag gelukkig omdat hul besef dat as die dag verby is, hulle dit nooit weer sal terugkry nie.

In Filippense 3:13-15 skryf Paulus: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Kom ons leer uit die verlede en beplan vir die toekoms, maar kies om vandag gelukkig te leef deur elke geleentheid wat ons pad kruis om iemand anders se lewe beter te maak, aan te gryp. Só leef ons immer gelukkig, vandag.

Vader God, baie dankie vir vandag. Help my om die geleenthede wat U oor my pad stuur om u liefde aan die mense rondom my te demonstreer, aan te gryp. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 3 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 29 Junie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.