Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 3 Julie 2012

Tema vir die maand: LEEF GELUKKIG VANDAG

(is daar spesifieke temas waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 2: LEEF GELUKKIG... TE MIDDE ’n TELEURSTELLING

Deur Benescke Janse van Rensburg

Verlede Donderdag het Rafael Nadal, die nommer twee-gekeurde in die Wimbledon tennistoernooi, by die baan opgedaag vir sy wedstryd teen Lukas Rasol, wat die 100ste plek op die wêreldranglys beklee. Dit was ’n uitgemaakte saak dat Nadal sou wen. Hy was immers reeds in 2008 en 2010 die Wimbledon-kampioen en hy het ’n paar weke gelede die Franse Ope-toernooi vir ’n rekord sewende agtereenvolgende keer gewen. Dít teenoor die 26-jarige Tsjeg, Rasol wat in sy Wimbledon-loopbaan vyf agtereenvolgende kere in die eerste rondte verloor het.

Groot was die skok egter vir toeskouers, sportkommentators en veral vir Nadal toe Rasol ure later die wedstryd wen. Met dié nederlaag, wat deur sommige as een van die grootste Wimbledon skokke in die toernooi se geskiedenis bestempel is, was Rafael se droom om sy twaalfde Grand Slam-toernooi in te palm, aan skerwe.

Het jy jouself ook al in ’n situasie van skok en teleurstelling bevind waar jy net jouself kon blameer? Moses was al daar. Sy humeur het daartoe gelei dat hy binne ’n dag van ’n prins in die Egiptiese paleis tot ’n misdadiger wat vir sy lewe vlug, verander het. Ook Jona het dit beleef. Sy ongehoorsaamheid aan God het hom verander van ’n profeet met ’n opdrag van God tot ’n man wat in ’n vis se maag vasgesluit sit. Ook Dawid het dit ervaar. Een dag was hy nog die man ná aan God se hart. Die volgende dag was hy ’n moordenaar wat owerspel gepleeg het.

Hoe hanteer jy jou teleurstellings in jou lewe? Keer jy soos Moses, Jona en Dawid terug na God? Bely jy jou sonde en aanvaar jy verantwoordelikheid vir jou optrede sonder op ander te blameer terwyl jy op God vertrou om dinge (al is dit ook pynlik) ten goede te laat meewerk?

In Psalm 62:8-9 skryf die Psalmdigter: “God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons 'n toevlug.” Ook in Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Rafael Nadal gaan beslis nie sy raket weens een teleurstelling ophang nie. Jy hoef ook nie moed op te gee wanneer jy misluk het nie. God kan en wil die moeilikste tyd in jou lewe gebruik om jou nader aan Hom te trek en sy grootheid aan jou te openbaar. Ook gebruik Hy hierdie tye om ons voor te berei vir wat dalk ons grootste deurbrake nog in die toekoms mag wees. Gaan jy Hom daarvoor vertrou? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat geen uitdaging ooit vir U te groot is om om te draai vir my voordeel. Lei my deur u Heilige Gees om elke uitdaging te gebruik om nader aan U te groei. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 4 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 2 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.