Vers n dag - 4 Julie 2012
(As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 3: LEEF GELUKKIG ... SONDER BLOKKASIES IN JOU LEWE
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ek was baie opgewonde toe ek teen die einde van my selfoonkontrak na ’n nuwe foon kon opgradeer. Vir weke het ek al die verskillende selfone op die mark ondersoek totdat ek op ’n foon besluit het wat kwaliteit videogrepe en foto’s neem.
Opgewonde is ek huis toe met my nuwe selfoon in sy boks. Dit sou die volgende oggend geaktiveer wees sodat ek dit kon gebruik. Die volgende oggend vroeg het ek ’n foto met my nuwe foon geneem. Tot my skok was die kwaliteit uiters swak. En toe die eerste oproep inkom, kon ek skaars die persoon aan die ander kant van die foon hoor. Iets groot was fout!
Later die dag sou ek tot my skok en uiterste skaamte besef dat ek die beskermende houertjie wat ek die vorige dag vir die foon gekoop het, opgesit het, sonder om die dun beskermde lagie plastiek voor die kamera en gehoorbuis van die nuwe foon te verwyder! Toe ek dit doen, was die foto-kwaliteit perfek en kon ek duidelik die stem aan die ander kant van die foon hoor.
Blokkasies in ons lewens, net soos die plastiek oor die foon, veroorsaak ook dat ons in ons lewens sukkel om die Heilige Gees se stem te hoor of dat ons met negatiewe oë na die wêreld rondom ons kyk. Hierdie blokkasies kom voor in die vorm van aanstoot teenoor ’n vriend of vriendin wat jou seergemaak het, woede of jaloesie teenoor ’n kollega by die werk, bitterheid of ’n onvergewensgesindheid teenoor ’n geliefde of selfs verwyte teenoor God omdat Hy nie jou gebed beantwoord het op die manier waarop jy gehoop het nie.
Jesus het die gevaar van hierdie blokkasies in ons lewens geken. Luister maar na sy woorde in Mattheus 5:23-24: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” Ook in Psalm 139:23-24 skryf die Psalmdigter: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (1953-hersiening)
Watter blokkasie in jou lewe verhoed dat jy ’n intiemer pad saam met God stap of dat jy sy Heilige Gees se stem in jou lewe hoor? Waarom vra jy nie vir God om jou te versterk sodat jy die “plastiek-laag” in jou lewe kan verwyder om sy hartklop vir jou te hoor en sy visie vir jou lewe beter te kan sien nie? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek met vrymoedigheid na u troon kan kom. Wys my wat blokkasies in my lewe veroorsaak sodat ek nie u stem duidelik kan hoor nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.