Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 5 Julie 2012

HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG VANDAG

(As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

DAG 4: LEEF GELUKKIG... MET BONATUURLIKE GELOOF

Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek het vroeër die week ’n e-pos van ’n leser ontvang wat skryf: “My hart voel absoluut dood. Geen emosie; net ’n hart wat klop.” Is dit hoe jy vandag voel? Probeer jy met al jou krag vorentoe beweeg, maar dit voel asof ’n onsigbare muur jou stuit? Of dalk probeer jy terugdraai na die verlede om ander besluite te neem, maar ook daar is ’n muur wat jou keer? En om dinge te vererger, voel dit asof jy in ’n modderige put staan met mure wat van alle kante in jou rigting beweeg om die lewe en vreugde finaal uit jou uit te pers?

Dít is hoe Sadrag, Mesag en Abednego moes voel toe hulle voor die vuuroond staan. Hulle het vir God standpunt ingeneem om nie voor die afgode te buig nie, maar nou het hulle hul dood in die oë gestaar. Of Abraham en Sara. Hulle het God se belofte vir ’n baba vertrou, maar was reeds verby die ouderdom wat dit menslik moontlik was om kinders te hê. Ook die vrou wat met die bloedvloeiingprobleem gesukkel het. Sy het vir jare dokters besoek en gebid vir genesing, maar steeds het niks gebeur nie.

Wat is jou krisis wat jou vandag verlam? ’n Ongelowige huweliksmaat? ’n Finansiële krisis wat vererger? ’n Siekte? Slegte nuus wat jou fondament skud? ’n Krisis in die werkplek waarvoor jy verantwoordelik gehou word? Of dalk die verlies van ’n geliefde wat verhoed dat jy vorentoe beweeg?

Luister weer na Psalm 40:2-4 waar die Psalmdigter ons daaraan herinner dat God ons uit enige donker put kan trek: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God.” Ook in Jeremia 32:27 sê God: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

Sadrag, Mesag en Abednego het beleef hoe God hulle sonder ’n geskroeide haar uit die vuuroond red – omdat hulle nie hulle geloof in Hom verloor het nie. God het ook sy belofte aan Abraham en Sara gehou en aan hulle ’n baba gegee – omdat hulle nooit moed opgegee het nie. En die vrou met die bloedvloeiingprobleem het met net een aanraking aan Jesus se kleed, genesing ontvang – omdat sy met haar hele wese geglo het dat dit sou gebeur.

Wat is jou wonderwerk waarvoor jy bid? Dalk is dit vandag die dag dat God afbuig, jou uit die put trek en op ’n rots laat staan sodat jy Hom kan loof en prys vir jou deurbraak. Gaan jy aanhou om Hom daarvoor vertrou? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. Help my om te midde van my krisis gelukkig te leef met die wete dat U my uit die put kan trek en aan my ’n beter toekoms kan gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 6 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 4 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.