Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 6 Julie 2012

HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG VANDAG

DAG 5: LEEF GELUKKIG... WANT HY DOEN STEEDS WONDERWERKE!

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Wanneer ons kies om ons geloof in God te plaas in die moeilikste tye van ons lewens, mag ons dalk net wonderwerke reg onder ons neuse beleef. Hier is drie lesers wat daarvan kan getuig. Deel gerus jou getuienis by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..]

Leser 1: Johan: “In Junie verlede jaar was ek met my motorfiets op pad na ’n vriendin se huis in Pretoria. So 3km van haar huis af, het ’n vrou in ’n dubbelkajuitbakkie oor ’n stopstraat gejaag en ek en my motorfiets het in die slag gebly. Met die oomblik van impak, het ek my bewussyn verloor.

By die hospitaal is ek na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas. My een long het platgeval en ek is aan ’n ventilator gekoppel. Die volgende dag het die ortopediese chirurg en internis in die teater hulle bes probeer om my gebroke liggaam te herstel, maar die kanse dat ek sou leef, was skraal. Die dokters het my ouers vir die ergste voorberei.

Van oraloor het mense wat ek ken en nie geken het nie, vir my begin bid. E-posse het ingestroom en lede van ’n Christelike motorfietsryersklub in Pretoria het my kom besoek en vir my gebid. Hoewel ek nie bewus was van wat rondom my gebeur nie, weet ek vandag: God het hulle gebede gehoor en my in sy hande vasgehou.

Veertien dae na die ongeluk, is ek uit die intensiewesorgeenheid ontslaan. Twee en ’n half weke later kon ek huis toe gaan en drie weke na die ongeluk was ek op kantoor. Dit was ’n totale wonderwerk!

Tydens my opvolgbesoeke aan die chirurg en internis, het beide my verseker dat my genesing nie van mense af gekom het nie, maar direk van God. Hulle kon dit nie verduidelik nie.

Vandag, ’n jaar later, kan ek steeds nie ophou om van God se krag te getuig nie. Voor die ongeluk was ek besig om van Hom af weg te dryf, maar Hy het my teruggeroep en my gehelp om met groter dankbaarheid na dinge rondom my te kyk. Moet nooit ophou bid nie. Daar is krag in gebed!”

Leser 2, André: “In Maart vanjaar het ons African Grey papegaai een Saterdagoggend weggevlieg. Ek was onmiddellik kwaad vir my vrou en kinders aangesien ek hulle vir ’n maand lank gevra het om die papegaai te vat dat sy vlerke weer geknip word. Die papegaai was ’n geskenk van my dogter vier jaar gelede en daarom ná aan my hart.
Die hele Saterdag het ons na die papegaai gesoek – sonder sukses. Ons het selfs die plaaslike radiostasie gevra om uit te saai dat ons na ons African Grey soek. Teen die aand het ek en my vrou saam Bybel gelees en daarna apart gebid. In my hart het ek geweet dat ons beide vir GOD vir dieselfde vra: ‘Here, laat ons asseblief die papegaai terugkry sodat die vrede in die huis kan herstel.’
Drie dae later het ons ’n oproep gekry van ’n dame gekry wat sowat ’n kilometer van ons huis af woon. Sy het ons papegaai gekry en aan ons terugbesorg. God het ingegryp en vir ons ’n wonderwerk gedoen! Daar is waarlik krag in gebed.”

Leser 3, Cornelia: “My oudste seun is met ’n gesplete verhemelte gebore. Toe die dokter die nuus aan my oordra was ek platgeslaan. Ek was nie eens seker wat presies dit behels nie. My kind is na ’n ander hospitaal oorgeplaas en vir ’n maand lank het die verpleegpersoneel probeer om my kind sovêr te kry om iets te drink. Dag na dag het ek in die gang gesit en bid vir my kind.

Een spesifieke dag was ek op moedverloor se vlakte. Ek het net daar in die gang besluit om God te vra om alles in sy hande oor te neem. Ek kon nie meer nie. Op daardie oomblik het die verpleegster my kom roep met die nuus: my seun het uit die bottel begin drink!

Drie dae later is my seun ontslaan en kon ons huis toe gaan. Vandag is dit drie jaar later en ek kan God steeds nie genoeg dank vir my wonderwerk in my diepste nood!”

Johan, Andre en Cornelia is reg. Daar is krag in gebed. Luister maar na die woorde in Jakobus 5:16: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag.” Of jy dus vir genesing, ’n deurbraak of ’n verlore papegaai bid, weet verseker dat God die onmoontlike moontlik kan maak. Al wat ons moet doen, is om Hom daarvoor te vertrou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek met elke hindernis in my lewe na U kan kom. Ek lê vandag (noem wat jou hindernis is) voor U neer met die wete dat U op die regte tyd en manier sal antwoord. Ek bid daarvoor in die Naam van Jesus Christus. Amen.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Kyk na ’n foto van Andre, Johan en Cornelia op die sosiale netwerk, FBook se STORIES VAN HOOP bladsy.

Previous article: Vers n dag - 9 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 5 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.