Vers n dag - 9 Julie 2012
HUIDIGE TEMA: LEEF GELUKKIG VANDAG
(As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na
DAG 6: LEEF GELUKKIG VANDAG... IN GOD SE BESKERMING
Deur Benescke Janse van Rensburg
Ek ontvang gereeld e-posse van lesers wat getuig van vrees wat hulle lewens verlam. Vrees om alleen oud te word, dat iets met hulle geliefdes gebeur, om nie finansieel deur die maand te kom nie, om deur ’n egskeiding te gaan of vrees om deur inbrekers aangeval te word. Wat is jou vrees vandag?
’n Amerikaanse gesin het onlangs die Oregan Dieretuin in Portland, Amerika besoek en hierdie videogreep geneem: http://www.telegraph.co.uk/news/newsvideo/weirdnewsvideo/9243781/Lioness-frustrated-in-attempts-to-eat-small-child-at-US-zoo.html).
In die videogreep sit Jack, ’n klein seuntjie van ongeveer een jaar oud, rustig en speel voor ’n veiligheidsglas. Agter hom probeer Kya, een van die leeus in die park, met al haar mag deur die veiligheidsglas breek om die kind te verslind. Al sien ons met tye Kya se slagtande, is dit vir haar eenvoudig onmoontlik om my Jack uit te kom omdat die veiligheidsglas te dik is.
In 1 Petrus 5:8 lees ons dat Satan, net soos Kya in die park, soos ’n brullende leeu rondloop op soek na areas in ons lewens om ons op aan te val. Hy weet wat ons sensitiewe areas is en hy probeer ons met vrees in daardie areas aanval. Hoekom? Omdat Satan weet dat vrees ons vreugde steel en ons van ons geloof in God beroof.
Hoe kan ons die vyand teenstaan? In Jakobus 4:7 lees ons: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” Hoe onderwerp ons, onsself aan God? Ons herinner onsself aan wie God is en wat Hy kan doen. Só word ons geloof in Hom sterker, terwyl die houvas van vrees op ons lewens verswak word. Hoe staan ons die vyand teë? Ons herinner hom aan God se beloftes – net soos wat Jesus in die woestyn gedoen het toe die vyand Hom aangeval het. Wanneer ons hierdie twee beginsels in ons lewens toepas, sal ons beleef hoe die vyand se houvas met vrees op ons lewens verslap omdat hy van ons af wegvlug.
In Psalm 91:3-4 skryf die Psalmdigter: “Die Here sal jou beskerm soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke beskerm, Hy bly dieselfde, Hy sal vir jou wees soos ’n skild, soos ’n sterk muur om ’n stad.” (Die Bybel vir almal-vertaling)
Kom ons kies vandag om weg van ons vrese te kyk en onsself te herinner aan wie God is. Hy is die Almagtige Skepper van die heelal vir wie niks onmoontlik is nie. Hy het in elke situasie die laaste sê. En wanneer Hy ’n veiligheidsglas rondom ons plaas, kan geen vyand ooit daardeur breek nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my lewe en toekoms. Help my om nie toe te laat dat vrees my lamlê nie. Beskerm my en my geliefdes vandag met u veiligheidsglas rondom ons. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, motiveringspreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.