Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 10 Julie 2012

HUIDIGE TEMA: LEEF GELUKKIG... VANDAG

DAG 7: LEEF GELUKKIG VANDAG... SONDER VREES

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: Ná gister se dagstukkie, het heelwat lesers gevra dat ek iets moet skryf oor hoe ons vrese in ons lewens beter kan hanteer. Ek deel graag ’n beeld met jou wat jou dalk kan help om geloof te behou as jou vrese dreig om jou te oorweldig.]

Het jy al gesien hoe die bose karakter in ’n animasieprent een van die ander karakters met messe deur sy of haar klere ’n paar sentimeter bo die grond teen ’n muur vaspen? Vir ’n oomblik is die vasgepende karakter só oorweldig met vrees, dat hy of sy vergeet dat hulle ongeskaad is en maklik van die muur kan loskom. Al wat hulle moet doen, is om hul arms en bene lank genoeg heen-en-weer te wikkel totdat die messe loskom en op die grond val – dan is hulle vry.  

Die vyand in ons lewens volg dieselfde strategie. Hy gebruik ook messe (in die vorm van vrese in ons lewens) om ons te laat voel asof ons met ons rug teen die muur, ’n entjie van die grond, vasgepen is. Die waarheid is egter dat dit heelwat makliker is om uit hierdie vreesaanjaende greep los te kom as wat ons dink. Jesus het dit immers aan ons gedemonstreer toe die vyand hom in die woestyn probeer verlei het. Hy het na die beloftes van God teruggekeer. Dít was sy wapen teen die vyand en dit is ook ons wapen. Met God se beloftes kan ons die messe wat ons vashou (vrese in ons lewens) ook uit die muur trek en op die grond laat val.

Hier is ’n paar praktiese voorbeelde van God se beloftes as die vyand jou weer probeer aanval:

  • Vrees vir siekte: In Jesaja 53:4-5 staan geskryf: “Tog het hy (Jesus) óns siektes gedra ... deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
  • Vrees vir eensaamheid: In Hebreërs 13:5 sê God: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

·         Vrees dat God jou nie sal vergewe vir iets wat jy gedoen het nie: In Jesaja 1:18 sê God: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

·         Vrees vir verkeerde besluite: In Jakobus 1:5 staan geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

  • Vrees vir die toekoms: In Jeremia 29:11 staan geskryf: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!”

·         Vrees dat jy nie ’n lewensmaat sal kry nie, dat jy nooit ’n baba sal hê nie, dat jou huwelik in ’n egskeiding gaan eindig of watter ander vrees ook al: In Psalm 37:5 staan geskryf: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Kom ons kies om vandag gelukkig te leef met geloof en vertroue in God. Hy kan in ’n oogwink aan jou ’n lewensmaat of ’n baba gee, jou huwelik herstel al voel dit asof jy op die randjie van ’n egskeiding staan of jou geliefde genees al gee die dokters hom of haar net ’n maand om te leef. En God kan die messe rondom jou uit die muur trek en jou veilig op die grond laat staan. Het Jesus dan nie reeds die vyand oorwin nie? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my hede en toekoms. Lei my asseblief om sonder vrees te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

(As daar spesifieke temas is waaroor jy in die reeks wil lees, e-pos my na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.)

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.

Previous article: Vers n dag - 11 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 9 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.