Vers n dag - 11 Julie 2012
HUIDIGE TEMA: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 8: LEEF GELUKKIG... EN GEHOORSAAM AAN GOD
Deur Benescke Janse van Rensburg
Akan en Noag. Wat het hierdie twee mans in gemeen?
In Josua 6 beveel God aan Josua en sy krygers om geen buit uit Jerigo te vat wanneer die stad ingeval word nie. Akan, een van die Israeli-krygers was egter ongehoorsaam aan God en hy het van die mooi klere, silwer en goud gevat en dit in sy tent gaan begrawe. Dít het God woedend gemaak. In die volgende veldslag waaraan die Israeliete deelneem, sterf ses-en-dertig krygers. Vir Josua en die res van die krygers was dit ’n geweldige skok. Het God dan nie beloof om hulle teen die vyand te beskerm en aan hulle die oorwinning te gee nie?
In Josua 7 lê Josua met geskeurde klere voor God en pleit vir ’n antwoord. Hoe moes hy die situasie aan sy krygers verduidelik? Dan antwoord God: Die mislukte veldslag was ’n direkte gevolg van een man se ongehoorsaamheid aan Hom. Die volgende dag is Akan in ’n parade as die skuldige man uitgewys en hy en sy gesin is met hulle besittings en al verbrand. Een man se ongehoorsaamheid het ’n hele nageslag beïnvloed.
In Genesis 6 lees ons dat die sonde van Adam en Eva se afstammelinge op aarde God soveel gegrief het, dat Hy spyt was dat Hy ooit die mens gemaak het. Hy was op die punt om mens en dier te vernietig, maar toe sien Hy vir Noag. ’n Regverdige man. Onder sy tydgenote was Noag onberispelik en hy het naby aan God geleef.
Noag se gehoorsaamheid het daartoe gelei dat God aan hom die opdrag gegee het om ’n ark te bou waarin hy en sy familie en ’n uitgesoekte hoeveelheid diere op aarde kon skuil tydens die sondvloed waarin die res van lewe op aarde verwoes is. Een man se gehoorsaamheid het sy gesin se lewens gespaar en aan hulle ’n blink toekoms verseker.
Van Genesis tot Openbaring word die belangrikheid van gehoorsaamheid aan God beklemtoon. In Eksodus 20:5-6 sê God: “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.” In Johannes 14:15 sê Jesus aan sy dissipels: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” En in Psalm 112:1-2 skryf die Psalmdigter: “Dit gaan goed met iemand wat die Here dien en wat baie lief is om te doen wat die Here sê. Sy nageslag sal belangrike mense wees in die land” (Die Bybel vir Almal-vertaling).
Jou gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God het ’n invloed op jou nageslag. Maak dus tyd om saam met God te spandeer. Onthou, al is jy die eerste gelowige in jou familie, kan jy ’n lyn in die sand trek en verseker dat jou nalatenskap vir jou kinders een van seën en nie vloek is nie! Dít is immers die grootste erfporsie wat jy ooit kan nalaat. Sterkte.
Vader God, baie dankie vir my familie. Help my om daagliks gehoorsaam te wees aan u Heilige Gees se stem sodat ek naby aan U sal bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms.