Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Julie 2012

Huidige tema: LEEF GELUKKIG VANDAG

DAG 9: LEEF GELUKKIG... TERWYL JY GOD MET JOU DROME VERTROU

Deur Benescke Janse van Rensburg

In 2001 het Goran Ivanisevic van Kroasië geskiedenis gemaak toe hy, as 125ste tennisspeler op die wêreldranglys op daardie stadium, as ongekeurde speler tot die Wimbledon eindstryd deurgedring het en Patrick Rafter in vyf stelle geklop het.

Die afgelope naweek het dit weer gebeur. Tot voor die Wimbledon mansdubbelspel-eindstryd het min mense van Jonathan Marray en Frederik Nielsen gehoor. Hulle opponente, Robert Lindstedt en Horia Tecau, die vyfde gekeurdes in die toernooi, was die gunstelinge om te wen. Hulle het immers in die afgelope twee jaar reeds agt kleiner toernooie saam gewen en in vanjaar se Wimbledon-toernooi slegs een stel aan teenstanders afgestaan tot by die finaal. Dít teenoor Marray en Nielsen, wat as ongekeurdes tot die toernooi toegelaat is en vir wie dit die eerste toernooi was wat hulle saam gespeel het. Groot was die verbasing egter toe die Brit en Deen, Marray en Nielsen hulle teenstanders klop en as die nuwe kampioene gekroon word.

Wat is dit wat maak dat ons ’n warm gevoel in ons harte kry wanneer ons sien dat die persoon of span wat geen kans gehad het om te wen met die oorwinning wegstap? Of wanneer ’n straatveër of vrugteplukker met ’n sangtalent ontdek word en ’n geleentheid gegun word om hulle talent aan die wêreld te demonstreer? Of wanneer iemand ten spyte van ’n gestremdheid of ’n diagnose van dokters daarin slaag om steeds Berg Kilimanjaro te klim, die Ysterman-driekamp te voltooi of ander rekords op te stel? Is dit dalk omdat dit aan ons hoop gee dat ons drome ook verwesenlik kan word as ons aanhou om op God te vertrou?

In Handelinge 10:34 sê Petrus: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie...”

Voor God is ons almal gelyk. Hy trek niemand voor nie. Hy het immers vir Moses, ten spyte van sy spraakprobleem, steeds gebruik om die Israeliete uit Egipte te lei. Hy het vir Ragab, ’n prostituut, gebruik om ’n kernrol in die Israeliete se geskiedenis te vervul. Hy het vir Saulus, die moordenaar en vervolger van Christene, ná sy bekering gebruik om die grootste gedeelte van die Nuwe Testament te skryf. En raai wat, God kan en wil jou ook gebruik!

Moet dus nooit dink dat jy nie goed genoeg is nie. Ook nie dat God nie van jou drome in jou hart weet nie. Hy het dit immers daar gesit, nie waar nie? Wanneer ons ’n intieme verhouding met Hom bou en ons ore oop hou vir die stem van die Heilige Gees wat ons daagliks lei, mag ons ook dalk verstom staan oor wat Hy nog in en deur ons lewens gaan doen. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my liefhet net soos wat ek is. Help my om daagliks na u stem te luister en op u pad vir my lewe te bly. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na Goran Ivanisevic se Wimbledon wen in 2001 hier: http://www.youtube.com/watch?v=_PBPyrx8c8w
  • Kyk na Jonathan Marray en Frederik Nielsen’s se wen in 2012: http://www.youtube.com/watch?v=F21EW6-Ckgw&feature=related of http://www.youtube.com/watch?v=pElrL0YAePY&feature=related

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 13 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 11 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.