Vers n dag - 13 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 10: LEEF GELUKKIG... WANT GOD DOEN STEEDS WONDERWERKE!
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Agtergrond: God doen vandag steeds wonderwerke. Hier is drie lesers wat daarvan getuig. Deel gerus jou getuienis by
Leser 1, Elton: “Vroeër die jaar was ons geskok toe ons uitvind dat ons 1-jarige seuntjie, Joah ’n seldsame siekte het. Die siekte veroorsaak dat sy rooibloedselle ’n onnatuurlike vorm aanneem wat deur sy mild afgebreek word. In die proses word sy rooibloedselle minder terwyl sy mild vergroot – wat albei hul eie komplikasies het.
Ons skok en hartseer was groot! Hoe kan mens se klein babetjie siek wees? En hoe gaan dit ons en sy lewe beïnvloed? Ons het by God gesmeek vir volkome genesing van ons kind. In hierdie tyd het ons egter telkens beleef hoe God ons in die storm van sy teenwoordigheid bewus gemaak het.
Drie maande gelede het Joah ’n bloedoortapping ondergaan en toe ons hom onlangs terugneem dokter toe, was sy rooibloedselle se telling normaal. Ek kan God nie genoeg bedank dat Hy ons gebede beantwoord het. Hy is waarlik Almagtig.”
Leser 2, Barbara: “My ouers woon op ’n plaas in die Bethal-omgewing. Een Sondagoggend ’n paar jaar gelede het ’n man aan hulle voordeur geklop wat geld wou hê. My pa het gesê dat hy nie geld by hom het nie, maar dat hy wel vir die man sou kos gee. Hy het na die kombuis gestap om die kos te kry. Toe hy terug by die voordeur kom het die man hom met ’n vuurwapen gedreig. Die aanvaller het my pa beveel om op sy maag op die grond te gaan lê. My pa het dit gedoen, maar op sy rug gedraai en die aanvaller reguit in die oë gekyk. My ma het die hele gebeurtenis geskok dopgehou van waar sy buite die huis agter die druiwe-prieel geskuil het.
Terwyl die aanvaller die vuurwapen op my pa rig het my pa aangehou bid dat God hom sou beskerm. Die aanvaller het ’n paar keer die sneller van die pistool probeer trek, maar niks wou gebeur nie. Toe hy dit besef het hy in vrees omgedraai en weggehardloop. My ouers het die boeregemeenskap en die polisie ontbied. Die aanvaller is later deur die polisie in die landerye nie vêr van die huis af aangekeer waar hy op die polisie geskiet het – met dieselfde pistool wat hy vroeër op my pa gerig het! Ek dank God dat Hy daardie dag by my ouers op die plaas was en ek twyfel nie vir ’n oomblik dat wonderwerke vandag nog gebeur nie!”
Leser 3, Paula: “’n Paar jaar gelede was daar ’n ander vrou in my man se lewe. Dit was vir my geweldig traumatiese en in ’n stadium het ek onder die druk geswig en met ’n ineenstorting in ’n kliniek beland. Alhoewel ons nie deur ’n egskeiding is nie, het my man nie meer sy trouring gedra nie. Dit het in ’n houertjie in ons huis gelê. Ek wou dit al laat smelt het, maar iets het my gekeer. Dit is immers vir my die mooiste ding as ’n man trots sy trouring dra.
Ná jare se gebede waarin ek vir God gevra het om my man aan te raak en met hom te maak soos Hy wil en nie net soos ek wil nie, het my man besluit om ’n mannekamp by te woon. Ek sal nooit ooit die Sondag vergeet toe ek van die kerk af teruggekom en hom vir die eerste keer na die kamp sien. Daar was trane in sy oë toe hy my omhels en vra waar sy trouring is. Hy wou dit weer dra.
Na ’n baie lang tyd het God my gebede beantwoord. My man het sy hart vir God gegee en waarlik vir Hom begin leef. My kinders het ’n nuwe pappa en ek is van vooraf verlief en lief vir my man. Moet dus nooit ophou bid vir jou huweliksmaat nie. By God is alles moontlik!”
Elton, Barbara en Paula is reg. God doen steeds wonderwerke. In Mattheus 17:20 sê Jesus immers: “Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Kom ons neem ons uitdagings na God. Hy kan en wil sy grootheid aan ons kom demonstreer. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat niks vir u onmoontlik is nie. Versterk my geloof om te midde van enige uitdaging sonder twyfel te wag vir u antwoord. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.
Kyk na ’n foto van Elton, Barbara en Paula op die sosiale netwerk, FBook se STORIES VAN HOOP bladsy.