Vers n dag - 16 Julie 2012
HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG
DAG 11: LEEF GELUKKIG... IN GOD SE GENADE
Deur Benescke Janse van Rensburg
[AGTERGROND: Hier is ’n uittreksel van ’n leser se e-pos wat ek in verlede week ontvang het: “Benescke, dit is wonderlik om te hoor van gebede wat verhoor is. Tog, my man was ’n alkoholis en vir 8 jaar baie siek voordat hy gesterf het. Ek het baie gebid vir sy genesing aangesien ek nie ons twee kinders sonder ’n pa wil grootmaak nie. Hoekom het God nie my gebed verhoor nie?”]
Ek dink die kernvraag hier, is dít: Hoekom laat ’n goeie God toe dat slegte dinge met goeie mense gebeur? Hoekom beantwoord Hy sommige mense se gebede en ander sin skynbaar nie? Ons kan ook byvoeg: Hoekom is daar soveel natuurrampe wat mense se lewens vernietig? Hoekom verhoed God nie dat kindermolesteerders of moordenaars met hulle bose dade voortgaan nie? Of hoekom is daar soveel arm mense wat op straat woon?
Die vrae is eindeloos en daar is geen maklike antwoorde daarop nie. Wat ons egter moet onthou is dat ons daaglikse stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug (Efesiërs 6:12). Die vyand se strategie is om ons seer te maak en ons lewens te verwoes en ons dan te oortuig dat dit God was sodat ons Hom daarvoor blameer. Die waarheid is egter: God is liefde en dit breek sy hart om te sien dat ons seerkry. Hy hou ons te midde van elke storm styf teen sy bors vas en soms gebruik Hy selfs ons grootste seer om ons nader aan Hom te trek en sy liefde die meeste aan ons te demonstreer.
In Jesaja 55:8-9 sê God: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.” En in 2 Korintiërs 12:9 skryf Paulus dat hy vir God drie keer gevra het om ’n doring uit sy vlees weg te neem. God se antwoord was egter: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
God se genade versterk ons en dra ons deur elke storm in ons lewens. Of jy dus ’n moeilike huwelik het, ’n siek geliefde by die huis, ’n klomp geld verloor het, sukkel om ’n verslawing te oorkom, ’n uitdaging in die werkplek het of dalk soos die bogenoemde leser sit met ’n gebroke hart en baie vrae, weet verseker dat God aan jou die mate van genade en krag sal gee wat jy benodig om daardie situasie te hanteer. Niks sal ooit jou pad kruis wat Hy weet jy nie kan hanteer nie.
Soms moet ons vir ’n oomblik ophou vrae stel en glo dat God in beheer is. Sy genade is vir jou genoeg. Hy kan alles in jou lewe ten goede laat meewerk as jy Hom liefhet. Onthou, in die storm is leer ken ons Hom soms die intiemste. Wil jy nie ook vir ’n slag net stil in sy teenwoordigheid wag nie? Sy beste vir jou is dalk net om die draai! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek te midde van enige krisis in my lewe voor U kan stil raak met die wete dat u genade vir my genoeg is. Help my om met ’n verwagting in my hart uit te sien na hoe U my uitdaging in ’n oorwinning en getuienis vir U sal omdraai. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen
** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.