Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 17 Julie 2012

HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG

DAG 12: LEEF GELUKKIG... MET VERTROUE OP GOD

Deur Benescke Janse van Rensburg

Hier is ’n uittreksel van ’n e-pos van Johan Oosthuizen, ’n Vers-’n Dag leser uit Kasakstan, in reaksie op Dag 11 (die dagstukkie wat ons herinner dat God se gedagtes nie ons sin is nie):

Johan: “My stiefpa, vir wie ek baie lief was, het ’n tyd gelede ernstig siek geword en hy is in die hospitaal opgeneem. In dieselfde tyd het ’n buitelandse prediker spesiale dienste by ons kerk gelei. Een aand na afloop van die kerkdiens het die prediker ’n uitnodiging gerig aan alle siekes in die gehoor (of diegene wat namens ’n siek geliefde wou instaan) om na vore te gaan sodat hy vir ons kon bid. Ek het dadelik namens my stiefpa vorentoe gegaan.

Die prediker het vir almal voor my in die ry gebid. Toe hy by my kom, het hy egter nie vir my gebid nie, maar na die persoon langs my beweeg. Ek is teleurgesteld huis toe. Toe ek by die huis kom, het ek ’n oproep van my ma gekry met die hartseer nuus dat my stiefpa aan ’n hartaanval gesterf het.

Ek is die volgende aand terug kerk toe. Na afloop van die diens het ek die prediker gevra hoekom hy nie die vorige aand vir my gebid het nie. Hy het geantwoord dat God aan hom gewys het dat my stiefpa ernstig siek was. As hy vir hom sou bid, sou my stiefpa leef, maar dan sou hy later ’n veel erger dood sterf. In die nadoodse ondersoek het ons uitgevind dat my stiefpa kanker gehad het. Dit is tydens sy lewe by hom gediagnoseer nie. God het hom dus daarvan gespaar.

Ek het nuut besef dat God almagtig is. As Hy soms nie ons gebede beantwoord nie, is Hy eintlik besig om ons heel moontlik te beskerm!”

Johan is reg. God weet altyd die beste. Ons vind dit ook in Koning Hiskia se lewe. Hiskia was ’n gelowige en godvresende man wat in die bloeityd van Juda geregeer het. In 2 Konings 18 lees ons dat hy ernstig siek geword het. Op sy sterfbed smeek hy dat God nie sy lewe sal beëindig nie. God verhoor sy se gebed en verleng sy lewe met vyftien jaar.

Dit klink aanvanklik wonderlik – totdat ons sien wat in daardie vyftien “ekstra jare” in Hiskia se lewe gebeur het. Trots het ’n houvas op sy lewe gekry toe hy by die Babiloniërs met sy weelde en besittings spog en vergeet dat dit ’n genadegawe uit God se hand is. Ook is Hiskia se seun, Manasse, gebore. Manasse het later ’n bose koning geword wat diep in die okkult betrokke was en ernstige straf oor die volk gebring het. Sou Hiskia beter af gewees het as sy lewe nie verleng is nie? Heel moontlik ja.

Waarvoor smeek jy God vandag? Soms moet ons onsself aan die woorde in Psalm 46:11-12 herinner: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting.”

Wil jy nie ook vandag bedaar en op God vertrou nie? Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Moet dus nie probeer om ’n deur oop te skop nie. Buiten dat jy jou voet gaan beseer, mag jy heel moontlik nie hou van wat aan die agterkant van die deur is nie. Vertrou eerder op God. Hy ken die toekoms en wil jou ook beskerm. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U die toekoms ken en my daagliks wil beskerm. Help om my te bedaar en nuut te besef dat U God is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien ’n foto van Johan Oosthuizen op die sosiale netwerk, Fbook se STORIES VAN HOOP bladsy.

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 18 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 16 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.