Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 18 Julie 2012

HUIDIGE REEKS: LEEF GELUKKIG... VANDAG

DAG 13: LEEF GELUKKIG... DEUR UIT TE REIK NA ANDER

Deur Benescke Janse van Rensburg

Vandag wil ek ’n eenvoudige geheim tot geluk met jou deel. Is jy gereed? Hier is dit: Ware geluk begin by jou vermoë om jou eie selfsugtige begeertes opsy te sit en ’n ander mens se lewe beter te maak. Is dit wat jy doen?

Die 2012 Olimpiese Spele begin oor nege dae in Brittanje en om bogenoemde beginsel te demonstreer deel ek met jou ’n storie wat in 1936 by die Olimpiese Spele in Berlyn, Duitsland afgespeel het:

Die atletiekstadion in Berlyn was volgepak toe die swart Amerikaanse naelloper Jesse Owens vir die verspring item aanmeld. Jesse het in daardie stadium reeds drie goue medaljes tydens die Spele verwerf. Die leier van die Nazi-party, Adolf Hitler, se rassistiese invloed kon egter duidelik in die skare se vyandige houding teenoor die swart atlete op die spele aangevoel word. Wat sake vir Jesse vererger het, was dat sy hoofopponent vir die goue medalje in die verspring, die Duitser, Luz Long was.

Jesse kon die teenstand aanvoel en meteens het die beledigings en vyandigheid van die skare die oorhand gekry. Met beide sy eerste en tweede spronge het hy oor die lyn getrap wat die spronge gediskwalifiseer het. Hy het slegs een sprong oorgehad om nie sy kans vir ’n vierde goue medalje te verbrou nie.

Al die Duitsers se oë was op Luz. Sou hy vir hulle ’n goue medalje wen? Met elke misstap aan Jesse se kant, het dit Luz se kans daarvoor vergroot. Net voordat Jesse sy laaste sprong spring, het die stadion meteens stil geword toe Luz die ondenkbare doen. Voor ’n paar duisende mense het hy na Jesse gestap en sy arm om hom geplaas.

Luz kon sien dat die skare se vyandigheid veroorsaak het dat Jesse gesukkel het om te konsentreer. Hy het na Jesse oorgeleun met die woorde: “Jesse, kalmeer. Die kwalifiserende afstand is slegs 23 voet (7 m) en jy spring met gemak 26 voet (7,9 m). Skuif jou merker waar jy begin 3cm terug sodat jy nie weer oor die lyn trap nie.” Jesse het Luz se raad gevolg. Met die volgende sprong het hy gekwalifiseer en later daardie dag nie net sy vierde goue medalje verwerf nie, maar ook ’n nuwe wêreldrekord opgestel.

In ’n onderhoud ná die spele, het Jesse gesê dat al die goud van sy medaljes gesmelt kan word, maar dit nooit die waarde van Luz se vriendskap in daardie oomblik van nood sal kan ewenaar nie. Luz het sy selfsugtige belange opsy geskuif en ’n ander se lewe beter gemaak. Alhoewel die twee mans mekaar nie weer na die spele gesien het nie aangesien Luz in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het, is ’n vriendskap tussen die twee gesmee wat Jesse nooit sal vergeet nie.

Vandag fokus Suid-Afrikaners vir 67 minute daarop om ’n verskil in iemand se lewe te maak. Tog, waarom net vandag? Hoekom maak ons nie hierdie beginsel daagliks deel van ons lewens nie? In Spreuke 19:17 lees ons: “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” In Spreuke 21:13 lees ons: “As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens, sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie.” En in Mattheus 25:40 sê Jesus: “Dit verseker Ek julle: Vir sovêr julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”

Die geheim tot ware geluk is om verby jou eie selfsugtige behoeftes en begeertes te kyk en ander mense se lewens te verbeter. As jy hierdie beginsel deel van jou lewe maak, is daar geen perke op wat God in en deur jou lewe kan vermag nie! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u liefde vir my. Help my om ’n beskikbare en bereidwillige instrument in u hand te wees om ’n verskil in die mense rondom my se lewens te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk hier na ’n foto van Jesse Owens en Luz Long: http://www.sportsfeelgoodstories.com/2009/04/14/jesse-owens-and-luz-long-%E2%80%94-olympic-heroes-1936/

** Benescke Janse van Rensburg is ’n radio-omroeper, spreker en skrywer. Haar boeke: Ontdek God in die stories van mense, Wysheid-oordenkings uit Spreuke en Hoop in tye van nood-oordenkings uit Psalms is beskikbaar by Kalahari.net en ook toonaangewende boekwinkels.

Previous article: Vers n dag - 19 Julie 2012 Prev Next article: Vers n dag - 17 Julie 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.