Vers n dag - 5 September 2012
'n Belofte vir donker dae
Xanthe Galanis
Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie!
Jesaja 7:3-4
Koning Agas was aan bewind 'n lang tyd nadat Dawid se koninkryk reeds in twee geskeur het. Israel, die noordelike koninkryk, het gereeld afgedwaal van die weë van die Here. Juda, die suidelike koninkryk, het heen en weer beweeg onder die heerskappy van gelowige en ongelowige konings. Agas was een van die ongelowiges.
Hier in Jesaja 7 kom Agas voor die grootste probleem in sy lewe te staan. Jerusalem is in gevaar om binnegeval te word. Sy koninkryk, om nie eers van sy lewe te praat nie, is in gevaar om tot 'n einde te kom. God stuur sy profeet, Jesaja, om met Agas by die kanaal by die boonste dam buite die dorp te gaan praat en om 'n belofte aan hom te gee. Hy sê vir hom om kalm te bly en nie moed te verloor omdat ander konings probeer om Juda binne te val nie. Deur Jesaja vertel die Here vir Agas dat sy bekommernis ongegrond is en dat die konings wat hom bedreig spoedig self sal val.
Maar Agas was nou nie juis bekend dat hy God vertrou nie, en hierdie keer was geen uitsondering nie. Hy kon nie verby die huidige omstandighede kyk en God genoegsaam vertrou dat wat Hy ook al in die toekoms doen, genoeg sal wees om die probleme van die hede te hanteer nie.
Deur Jesaja nooi die Here Agas uit om vir Hom 'n teken te vra, enige teken, maar Agas verwerp die aanbod. En tog gee die Here vir hom 'n teken, 'n belofte vir die toekoms: "'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem." (Jesaja 7:14). God wou vir Agas vertel dat Hy by hom is, maar Agas kon dit nie raaksien nie.
Waaroor bekommer jy jou die meeste? Is jy ook soos Agas bekommerd oor iets wat miskien in die toekoms gaan gebeur? Onthou, die Here se belofte, Hy is altyd by jou!
Gebed: Here, dit so maklik om vasgevang te raak in al die bekommernisse en stres wat ons daagliks ondervind. Ons dank U vir die belofte in u Woord dat al is alles rondom ons ook hoe donker, U altyd by ons is. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.