Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 10 September 2012

Jesaja se profesie

Xanthe Galanis

Babel, die sieraad onder die koninkryke, die pronkstuk en trots van die Galdeërs, sal deur God verwoes word soos Sodom en Gomorra. Die stad sal nooit meer bewoon word nie, niemand sal ooit weer daarin bly nie. Geen Arabier sal sy tent daar opslaan nie, geen wagter sal sy kudde daar laat rus nie.

Jesaja 13:19-20

Jesaja se profesie moes vir die mense van sy tyd baie vreemd geklink het. Hy praat onder andere van die vernietiging van Babel, 'n moondheid wat eers sowat 85 jaar na sy dood sterk gestaan het. Jesaja vertel dat hulle deur die MedIërs verslaan sou word, 'n moondheid wat op daardie stadium nog nie eers aan bewind was nie. Jesaja praat dus oor gebeure en mense wat in sy leeftyd nie bestaan het nie. Hierdie profesieë is later vervul, presies soos Jesaja dit voorspel het – 'n ongelooflike illustrasie van die grootheid van God.

Babel is geheel en al vernietig, presies soos Jesaja dit geprofeteer het. Die dik mure om die stad is verwoes en die stad is in puin gelê. Die Mediërs en die Perse waarvan hy skryf, was geen groot krag in sy leeftyd nie.  Die Mediërs was 'n klein nomadiese groep, en tog het hy geprofeteer dat hulle Babel sou vernietig. Dit is honderde jare later vervul toe Darius die Mediër, koning Belsasar vermoor het. (Daniël 5)

Wanneer 'n mens hierdie eeue oue profesieë lees in die lig van die geskiedenis wat aan ons bekend is, is dit duidelik dat Jesaja hierdie profesieë onder leiding van die Heilige Gees neergeskryf het – hy het dit nie net uit sy duim gesuig nie.

Ons kan seker wees dat daar niks in hierdie wêreld is wat die regverdige veroordeling van God kan weerstaan nie.  Daarom, kom ons hou ons oë gerig op dit wat saak maak – op God en sy beloftes aan ons.

Gebed: Here, ons dank U vir hierdie eeue oue profesieë wat ons verseker dat u woord die waarheid is, en dat alles wat U beplan het en wat U ons beloof het, bewaarheid sal word.  Help my om hierdie week op u ewigdurende waarhede te fokus.  Amen

Previous article: Vers n dag - 11 September 2012 Prev Next article: Vers n dag - 7 September 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.