Vers n dag - 11 September 2012
Die waarheid is …
Xanthe Galanis
"Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy sê: ‘Die Here sal ons red.’ Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië? “Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria bevry uit my mag? Wie van al die gode van die ander lande kon sy land red uit my mag? Dan sal die Here mos nie Jerusalem kan red uit my mag nie!” Isaiah 36:18-20
Koning Agas is oorlede en Hiskia, 'n koning wat die Here liefhet, is nou op die troon van Juda. Daar is egter 'n probleem: julle sal onthou dat Agas 'n ooreenkoms met die Assiriërs aangegaan het. Die Assiriërs het egter besluit hulle wil nie net Agas se omkoopgeld hê nie, hulle wil sy hele land hê! Hiskia het nou te make met die magtige Assiriese leer. Die hoofadjudant van die Koning van Assirië het 'n vergadering belê om oor die oorname van Jerusalem te onderhandel. Die hoofadjudant staan op en begin die inwoners van Jerusalem in Hebreeus toespreek, net oms seker te maak dat hulle verstaan. In wese vertel hy hulle dat Hiskia hulle nie kan red nie, dat God hulle nie kan red nie en dat hulle eerder moet oorgee. Hy belowe selfs om hulle goed te behandel as hulle dit doen.
Dit is geen leë dreigement nie. Die Assiriërs het tot op daardie stadium al die stede wat hulle aangeval het, verower. Hiskia het elke geveg verloor. Dit is nie te betwyfel dat die Assiriërs oor die nodige militêre mag beskik om Jerusalem, soos baie ander stede, te verwoes nie. Dit is die ware feite.
Maar daar is een belangrike feit wat hierdie hoofadjudant ignoreer – hy praat met die volk van God en God is in beheer oor wat met hulle gebeur.
Wanneer ons besluite neem moet ons ook onthou dat ons ons lewens aan God oorgegee het en, al is sommige feite nie vir ons duidelik nie, alles is vir Hom duidelik. As ons werklik verstandig wil wees, moet ons versigtig na die stem van die Here luister, en nie net na wat mense rondom ons sê nie.
Gebed: Here Jesus, soms kyk ek na al my probleme en dan lyk dit vir my soos in die geval van Hiskia of daar geen uitweg is nie. Leer my om volkome op U te vertrou, selfs al dink almal rondom my dat ek onverstandige besluite neem. Ek bid dit in u Naam. Amen