Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 26 September 2012

Sonde bring skeiding, maar die Here red

Xanthe Galanis

Daarom is daar geen sprake van reg en geregtigheid vir ons nie. Ons wag op lig, maar dit bly donker, ons wag op 'n straaltjie lig, maar ons pad bly pikdonker. Ons tas teen die mure soos blindes, ons tas rond soos mense wat geen oë het nie. Ons struikel helder oordag soos in die skemer, ons is soos dooies onder gesonde mense.  Jesaja 59:9-10

Vir 'n hele geslag was die Israeliete reeds in ballingskap in Babel.  Die ouer geslag het steeds hulle tuisland onthou en daarna verlang, maar vir die jonger geslag was die lewe in Babel die enigste wat hulle geken het.  Die Israeliete het die beloftes van die profete onthou. Eendag sou hulle weer huis toe gaan en Jerusalem herbou, maar dit het nie gelyk of dit gou sou wees nie.  Babel was die magtigste ryk in die wêreld en daar was nog geen tekens van verval nie.

Hulle het gevoel dat hulle gebede om bevryding op dowe ore val, dat God hulle verlaat het en dat hulle pad pikdonker was.

Vroeër in hierdie hoofstuk sê Jesaja hoekom dit so is: "Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie. Julle hande is met bloed bevlek, julle vingers met onreg. Julle praat net leuens, julle bedink net onreg "(v 2-3)  Die Israeliete se sonde en hulle onvermoë om te erken dat dit sonde is (onthou jy gister se stuk oor die ware betekenis van vasdae?) het skeiding tussen hulle en God gebring.

Ons leef in 'n wêreld waar mense glo dat die mens inherent goed is, en dat al die misdade waarvan ons lees deur individue gepleeg word wat die uitsondering op die reël is.  Die Bybel leer ons anders.  Ons is almal skuldig, ons is almal sondaars, ons tas rond soos mense wat nie oë het nie.  God haat die sonde, maar dit beteken nie dat ons sonder sonde moet wees voordat Hy ons gebede sal verhoor nie.  Maar dit beteken egter dat ons nie in die sonde moet volhard nie, maar dit moet haat soos God dit haat.

Gebed: Here, ons wil nie in die donker wandel nie, maar in u wonderlike lig.  Dankie vir u belofte dat as ons ons sondes bely, U getrou en regverdig is en ons sondes sal vergeef en ons van al ons ongeregtighede sal verlos.  Amen

Previous article: Vers n dag - 27 September 2012 Prev Next article: Vers n dag - 25 September 2012 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.