Vers n dag - 27 September 2012
Eer in plaas van smart
Xanthe Galanis
Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om 'n blye boodskap te bring aan die mense in nood, ... die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Jesaja 61:1, 3
Hoofstuk 61 is deel van die tweede belangrike deel van die boek Jesaja en handel meer oor Juda se toekomstige bevryding uit Babel en hulle uiteindelike verheerliking as oor hulle onmiddellike omstandighede. In die vorige hoofstukke praat Jesaja baie oor hoe noodsaaklikheid dit is om die sonde te verwerp. Nou, in hierdie finale hoofstukke van die boek, beskryf hy verlossing, insluitende die bevryding van onderdrukking, die verlossing deur God, die volharding van die Heilige Gees, en die ewige verheerliking van Jerusalem.
In Jesaja 61 lees ons dat die Messias wat met sy eerste koms verlossing gebring het, met sy tweede koms die verloste Israel sal vertroos. Jesus het Jesaja 61:1-2 voorgelees en in sy eie bediening toegepas toe Hy in die sinagoge van Nasaret gepreek het. (Lukas 4:16-21) Hierdie gedeelte in Jesaja word in Jesus Christus vervul; Hy het gekom om te genees en te help, Hy het die siekes genees en die wat ly vertroos en die eiegeregtiges veroordeel.
In die tyd van antieke Israel was dit die gebruik dat mense as 'n teken van rou hulleself met as en stof besprinkel en hulleself met rouklere van sak geklee het. Hierdie sakkleed is geskeur en was onder die Hebreërs 'n teken van smart en angs. Olie beteken die teenoorgestelde – om met olie gesalf te word was 'n teken van vreugde en feesviering. Dit is die emosies wat Jesaja probeer ontlok wanneer hy in hierdie hoofstuk na olie verwys.
Die Here verander ons as en stof in olie van blydskap. Deur die Messias, Jesus Christus, word ons wat ons sondes bely, verander en deur sy soendood word ons voor God geregverdig. Dit is egter nie 'n verandering wat slegs bepaal wat met ons sal gebeur wanneer ons sterf nie, maar dit bepaal wat God met ons by bekering laat gebeur, op die pad van heiligmaking en in ons daaglikse lewe. Hy neem iets waardeloos en Hy gee aan ons "eer in plaas van smart".
Gebed: Here, U is ons troos en hulp. Verander ons smart in vreugde. Gee aan ons eer in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid en blydskap in plaas van hartseer. Amen