Vers n dag - 28 September 2012
Hoor die woord van die HERE
Xanthe Galanis
Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord. Wie ’n bees as offer slag, is soos hy wat ’n man doodslaan; wie ’n lam offer, soos hy wat ’n hond se nek breek; wie ’n spysoffer bring — dit is varkbloed; wie wierook as gedenkoffer bring, is soos hy wat ’n afgod prys.
Jesaja 66:2-3
Jesaja eindig met 'n beskrywing van God se finale veroordeling en die beloning van die regverdiges op aarde wat nuut gemaak is. Die heerlikheid van God sal deur al die nasies verkondig word en mense van al die nasies sal voor Hom kniel en Hom aanbid. Die nuwe hemel en die nuwe aarde word geopenbaar. Wat 'n wonderlike slot tot hierdie kragtige woord wat Jesaja gebring het.
Alhoewel hierdie hoofstuk (66:18-24) in 'n wonderlike openbaring eindig, is daar tog in die begin van die boodskap nog 'n waarskuwing. Die Here sê: "Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord." (66:2) 'n Paar verse verder (66:5) praat Jesaja direk met diegene wat berou het oor hulle sonde "Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe!" Hulle word gestel teenoor diegene wat nie geantwoord of geluister het toe die Here gepraat het nie. (66:4). Hierdie sleutelverse som Jesaja se boodskap op, teenoor die sonde staan nie godsdiens nie, maar gehoorsaamheid.
In elke geslag word ware en vals Christene nie bepaal deur wie die beste vertoning as Christen lewer nie, maar wel of ons getrou is aan die Woord van God.
Het jy werklik ontsag vir die woord, soos ons teksvers sê, bewe jy vir die woord? Maak jy erns met die woord or verwag jy dat God aan jou persoonlike wense, verlangens en verwagtinge moet voldoen? Aanvaar jy net daardie dele in die Bybel waarmee jy saamstem en verwerp die dele wat jy as ongerieflik of verkeerd beskou? Wat doen jy indien die woord van die Here in konflik is met jou manier van doen?
Gebed: Hemelse Vader dankie vir u woord. Help my om u woord te vertrou en elke dag daaraan getrou te bly. Here Jesus, vorm my vir u doel en tot u eer. Amen.