Vers n dag - 1 Oktober 2012
DIE BOODSKAPPER
Frank Retief
Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só: In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. ” Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. Markus 1:1-4
Hierdie woorde verwys na Johannes die Doper. Hy is as boodskapper gestuur om die pad vir Jesus gereed te maak. Dit is 'n betekenisvolle ontwikkeling en ons moet nie die belang van hierdie teks vir ons lewens vandag miskyk nie.
In die vroeë tyd van die Romeinse Ryk was dit algemene gebruik om, wanneer 'n Romeinse generaal 'n oorwinning behaal het op 'n verafgeleë slagveld, 'n boodskapper vooruit te stuur om die oorwinning aan te kondig. Dit het ook gedien om die plaaslike inwoners te bemoedig en vertroue te gee in die vermoëns van hulle leërmag om hulle te beskerm. Maar in hierdie Skrifgedeelte het ons egter te make met die vervulling van 'n ou profesie (Maleagi 3:1; Jesaja 40:2) oor die langverwagte Messias. God sou iemand stuur as 'n boodskapper om die mense vir die koms van die Messias voor te berei deur by hulle te pleit om hulle te bekeer en om gereed te wees om Hom te ontvang wanneer Hy verskyn.
Daar is twee maniere hoe Johannes die Doper se aankondiging ons vandag kan help. Eerstens, kan ons seker wees dat die Een waarna hy verwys die ware Seun van God is. Hy was nie 'n vervalsing of 'n illusie nie. Hy was die ware Messias wat gekom het om sy kinders te verlos. Maar tweedens weet ons, danksy hierdie aankondiging van Johannes die Doper, dat Jesus volkome uniek is. So uniek is Hy dat 'n boodskapper Hom vooruitgaan. Anders as die boodskappers wat gestuur is om die oorwinnings van die Romeinse generaals aan te kondig, word hierdie boodskapper gestuur om die pad vir die Here self gereed te maak. Verder kom hierdie "Here" nie as 'n magtige kryger nie, maar as 'n dienskneg wat sy kinders wil red deur vir hulle te sterf.
Dat Jesus uniek is, kom oral in die eerste hoofstukke van die Markus Evangelie voor, maar dit is miskien beter om hierdie feit in die lig van sy gesag en sy mag te beskryf. Lees Markus 1 en let op die baie tekens wat getuig dat Jesus uniek is ‑ tydens sy doop kom daar 'n stem uit die hemel, sy versoeking in die woestyn, sy mag oor die manne wat Hy geroep het om sy dissipels te word en sy gesag oor bose geeste; sy krag om die siekes te genees – almal gebeure wat dui op 'n ware unieke Individu met buitengewone gesag en mag oor die gebrokenheid van die mensdom.
Dit moet ons werklik bemoedig. Wanneer dit soms lyk of die koninkryk van Christus besig is om te verdwyn, moet ons sy krag en sy grootheid onthou. Dit is hierdie mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy jou as sy kind geroep het en dit is hierdie mag en krag wat ons elke dag op ons lewenspad vergesel.
Gebed: “Hemelse Vader, dankie dat U u Seun toegerus het met volkome krag en gesag sodat ek verseker kan weet dat al my sondes vergewe is en dat Hy my veilig sal bewaar totdat ek die Hemelse Koninkryk bereik." Amen